- 2043 km totaal: 785km teer, 1258km grondpad
- 5 dae
- Gemiddelde ry-spoed: 81km/h
- Totale rytyd: 25.2 uur
- Motorfiets: GS 1200 Adventure
- Bande: Battlewings
- Petrolverbruik: 17.8 km/l
Ons langste en koudste dag. Ons spring by die huis weg en dis 10 grade buite. Na die Bainskloofpas drink ons koffie by Ceres se Wimpy en voor ons in die Tankwa Karoo afsak tref ons 8 grade celcius oor die berg. Later by Calvinia trek ons maar ons ski-baadjies bo-oor ons motorfiets-baadjies aan en ry warm tot in
Kenhardt, waar ons bly in Asjas. Kenhardt het seker 8 gastehuise en amper almal word deur dieselfde vrou bedryf. Ons eet pasta & sauce met biltong wat ons van die huis af saamgebring het. Die aand eet sowat 200 muskiete ons amper op maar gelukkig bring die vrou vir ons muskietgif en een vaan daai inplug-muskietverwilderaars wat goed werk. Ons verander ons hangmat in ‘n bed deur opgevoude handdoeke onder die matras in te druk en slaap soos bakstene tot die oggend.
Weer laat ons ons nie vang nie en trek sommer weg met ons ski-baadjies aan. Dit is 9 grade toe ons uit Kenhardt die lang, reguit pad noord aanpak. Daar is amper geen wind nie en ons ry heerlik. Ons steek die Oranjerivier oor by Keimoes en stop vir koffie by Upington. Ons ry die laaste 200km tussen geel grasvlaktes en rooi duine deur en kom net voor middagete by Molopo lodge aan. Ons pak af in ons oulike tent-huisie en eet middagete by die lodge. Na ‘n middagslapie-poging maak ons reg en ry saam met die bruid se ouers in hulle Toyota 4x4 die 10km Askham toe vir die diens. Die onthaal is terug by die lodge en ons partytjie tot laat-aand voordat ons stokflou gaan inkruip.
Na ‘n heerlike ontbyt groet ons al die trou-mense en pak die 300km grondpad suid aan. Die eerste 100km is asemrowend mooi met doringbome en geel gras wat die rooi duine bedek. Reuse versamelneste kom oral voor – meesal in bome maar ook op lamppale. Die veld herinner baie aan Namibië, nou slegs 20km oos van ons. Die padoppervlakte is goed en ons maak goed tyd op. Ons stop vir middagete (Game, Jungle energy bars en jelly tots) onder ‘n doringboom en maak reg vir die laaste 130km. Ons sak af in ‘n vallei waar die pad langs ‘n rivierloop kronkel. Die pad-oppervlak is nou baie meer los met sanderige dele hier en daar waar ons moet staan om in ‘n reguit lyn te kan ry. Net voor Kakamas tref ons die ergste sinkplaat waar dit nie saak maak of jy 10 of 100 ry nie – dit skud. Die linker-spieëltjie skud skoon los en kom aanmekaar tot rus teen my voorarm. Eindelik is ons terug op die teer en ry die laaste ent tot by The Falls gastehuis waar ons gaan oornag. Na afpak ry ons deur Augrabies valle toe en ons vergaap ons aan die massa water van die Oranjerivier wat deur die rotsskeure beur tot onder in die vallei. Die wolke is prentjie-mooi en ons neem pragtige foto's. Terug by die gastehuis eet ons ‘n heerlike aandete en gaan kruip vroeg in.
Vandag is die langste stuk grondpad van die hele trip en ons ry vroeg. Die eerste 80 km stuk is ‘n 'kortpad' wat ons spaar om eers terug Kakamas toe hoef te ry voor ons suid draai. Die pad begin mooi maar kort voor lank ry ons deur ‘n hek en begin die pad sanderig raak. Na nog ‘n paar hekke (ek ry gelukkig ‘n hek-oopmaker saam) eindig ons op ‘n tweespoorpaadjie wat tussen pragtige grasvlaktes deurloop. Dit oppervlak wissel tussen sand en klip en ons staan meer as wat ons sit. Maar dis pragtig en uiteindelik klim ons op ‘n groter pad wat ons by Loeriesfontein gaan uitbring. Kort na ‘n uitgestrekte pan met soutwerke ry ons deur ‘n swerm springkane – dit klink soos klippe teen my valhelm en een tref my teen die bo-arm dat ek seker is dit gaan ‘n merk los. Na nog omtrent 100km van vinnige grondpad kom ons eindelik in Loeriesfontein aan waar ons ‘n toebroodjies en skyfies in ‘n restaurantjie deurwerk. Die laaste 80km van Loeriesfontein na Calvinia is prentjiemooi. Die grondpad is uitstekend en mens kan met veiligheid rondkyk sonder om op die sand-middelmannetjie op te eindig. Ons sien aalwyne wat blom en honderde kokerbome wat die koppies versier. Die pad gaan op en dan af net om weer die oor volgende koppie te kronkel. Ons kom so teen 3-uur in Calvinia aan en gaan ontspan in die gastehuisie vir die res van die middag. Die aand eet ons ons weer Pasta & Sauce met frankfurters opgesny. En ons drink die halwe bottel rooiwyn wat ons al die pad van Augrabies af saamgery het.
Die eerste 200km is lank en reguit op die R355. Die los klippe op die pad is lank nie meer ‘n probleem na die ervaring van die noorde nie en ons draai binne 2 uur af na Peerboomskloof en die Katbakkies pas. Die vlaktes van die Tankwa Karoo word verruil vir kliprante en –koppies en op twee plekke is die pad so steil dat dit geteer is om dit begaanbaar te hou. Ons sluit aan by die Cederbarge-pad en draai na ‘n paar kilo’s links af om plaas-paaie te ry tot waar ons weer bokant die Gydo-pas by die teerpad links draai. Meteens kry ek ‘n skerp steek op my bors en moet inderhaas stop om ‘n by iewers onder my hemp op te spoor. Gelukkig het hy my deur my hemp gesteek en die rakker lê nou angelloos maar trots op my skoot. Ons ry by potblou damme en interessante rotsformasies verby. Na ‘n petrol- en bandestop op Prins Alfred’s Hamlet gaan geniet ons een van die beste burgers van die trip in Ceres se Spur. Daarna is dit terug oor die Bainskloofpas tot by die huis in Stellenbosch teen vroeg middag.