Dag 1: Kaap tot Die Hel
Daar word lekker vroeg opgestaan om betyds om 6h00 by die Winelands One Stop te ontmoet. Robbie ry ‘n Dakar, Tony ‘n 1150 Adventure en Gerhard en Deirdré is op ‘n 1200 GS. Theuns en fotograaf Leon ry in Theuns se 4x4 Hilux bakkie en vervoer die tente, kos en bagasie. Dinge verloop stiptelik volgens plan en om 6h30 trek almal in by ‘n vulstasie net onder Du Toitskloof pas en kry vir Danie en Kobie op hulle 1200 Adventure en Phillip en Joanita wat tot in die Hel in hulle Colt bakkie gaan saamry.
Ons kry lekker koud op die N1 en kom na sonop by Touws Rivier aan vir ontbyt en koffie om almal weer warm en wakker te kry. Danie het tweerigting radios saamgebring. Een word nou ook aan Gerhard se interkom op die 1200GS gekoppel en die ander twee gaan na die bakkies – nou het ons kommunikasie tussen die twee1200’s en die twee bakkies.
Ons ry die laaste stuk teer tot in Prins Albert waar ons vinnig ietsie eet en bietjie die bedrywighede van die jaarlikse Olyffees geniet – van stalletjies en donkiekarre tot kleurvolle klopse en veteraan-motors in die straat af.
En dan begin die pret. Dis bande afblaas en ontslae raak van oortollige warm klere – eerste aan die beurt is die Swartbergpas. Van ons het nog nooit hierdie paaie gery nie en ons monde hang oop vir Thomas Bain se eindelose, pynlik netjiese klipmuurtjies waarop die steil pad tot bo gebou is.
Bo-op die plato word daar gestop vir ‘n paar foto’s voor ons afdraai na die Hel. Hier sorg Gerhard vir bietjie vermaak as hy sy fiets in ‘n sloot probeer parkeer vir ‘n groepfoto en uiteindelik dit n
etjies (dog sagkens) op sy kant neersit. Met ‘n naam soos “die Hel” verwag ons die ergste, maar behalwe vir los klippe hier en daar is die
pad soontoe in ‘n goeie toestand. Uiteindelik kyk ons af op die Hel. Die pad kronkel met skerp haarnaald-draaie ver na onder waar ons gaan kamp opslaan vir die nag en ons ry maar so teen die enjin se kompressie ondertoe dat die remme nie oorverhit nie.
Na kamp opslaan word die area bietjie verken en foto’s geneem. Die GS manne help vir Phillip om sy bakkie se pap wiel met ‘n “puncture repair kit” reg te maak en na ‘n lekker ete en kuier om die kampvuur gaan kruip almal vroeg in.
Dag 2: Die Hel tot Baviaans
Na ‘n rustige ontbyt kos dit mooi pak om al die bagasie in Theuns se bakkie te kry. Die vier spaar motorfiets-buitebande sorg vir die meeste frustrasie, maar na vreeslik baie kommentaar van die omstanders is alles darem in en die klap toe sonder om weer oop te spring. Na ‘n groepfoto sê ons vaarwel aan Phillip en Joanita wat nog ‘n aand in die Hel gaan oorbly en dan alleen gaan terugry Kaap toe. Robbie en Tony ry bietjie vinniger vooruit om ons by die T-aansluiting bo-op die Swartbergpas te kry. Die twee 1200’s met hul passassiers en die bakkie kom rustiger agterna. Die steiltes verg baie konsentrasie en met iemand agterop vereis dit net die regte gewigsverplasing om konstante “pull-ups” te vermy. Die draaie is skerp en die BMW-instrukteurs se raad van “kyk vooruit waar jy wil ry” kom goed te pas. En as jy vergeet word
jy hard gestraf met ‘n wankelende fiets en ‘n benoude wegtrek uit die draai terwyl jy probeer om die versneller en koppelaar egalig te werk ten spyte van al jou en jou vrou se gewig wat aan jou hande en arms hang. Min het ons geweet dié toestande is maar net ‘n voorsmakie van wat later vir ons wag.
Terug op die Swartbergpas sluit ons weer by Robbie en Tony aan en draai regs in die rigting van Oudtshoorn. Die mis hang dik en yskoud oor die hoogste pieke en ‘n koffie-stop raak al hoe noodsaakliker. Ons stop naby die Kango grotte vir ‘n vroeë middagete by ‘n plek waar jy kamele kan ry en met ‘n foefie-slide oor ‘n dam gly. Hierna ry ons met grondpaaie tot op Willowmore waar ons brandstof ingooi en die laaste stuk grondpad aandurf tot by Baviaanskloof se Westelike ingang.
Vandaar verkyk ons ons aan die mooiste klipformasies en –rante soos ons ry tot by ons kampplek vir die aand by Makkedaat.
‘n Paar gesellige uurtjies word weer eens om die kampvuur spandeer waarna ons gaan slaap vol afwagting vir die volgende dag wat beloof om een van die groot hoogtepunte van die toer te wees - Baviaanskloof.
Dag 3: Baviaanskloof
Na die gebruiklike ontbyt word die dag rustig afgeskop met mooi grondpaaie. Totale afstand vir die dag is ongeveer 100km en ons lê die eerste helfte van die afstand binne ‘n uur af. En toe kom ons by die eerste groot waterkruising. Die bakkie gaan eerste deur en dit lyk nie te erg diep nie, maar nogal klipperig. Gelukkig (?) kan mens nie die bodem sien nie, so dis maar opstaan en opkyk en reg wees vir die onverwagse. Robbie op die Dakar gaan bietjie stadig maar toe hy kantel slaag hy steeds daarin om sy voet uit te kry en hy kom in een stuk en met droë klere anderkant aan. Elke ryer glimlag breed as hy suksesvol die rivierbed oorsteek en stop aan die anderkant om te sien of sy makkers dit ook veilig maak. Hier ontmoet ons ook 3 ander ryers wat elkeen op hulle eie toer – ‘n enkelling op pad na Pretoria via die Oos-Kaap, ‘n paartjie van Hazyview op pad na Sedgefield op hulle 1200 GS, en ‘n paartjie op ‘n KLR wat net daar besluit om om te draai!! Ons ry verder, vreeslik trots op onsself oor ons eerste sukses.



By die tweede oorsteek ry Danie en Kobie op die Adventure deur ‘n gat in die middel van die rivier, maar behou gelukkig momentum en kom veilig aan op droë grond. Nog ‘n paar rivier-oorsteke verloop sonder voorval voor ons by die pas aan die voet van die plato kom. Die pad begin redelik mak, maar soos ons styg verander die padoppervlakte in onewe klipbanke met sulke lekker skerp rante. Hier en daar is die lyn naaste aan die afgrond redelik g
elyk, maar op ander plekke moet jy jou maar oor die klippe begewe. Dis opstaan , lekker vêr vorentoe leun (veral op die 1200’s met die vrouens agterop) en bietjie die BMW suspensie op die proef stel. Dit bly maar lekker om daai krag onder jou te voel terwyl jy die steiltes met sulke geboë elmboë en bene aandurf. Na elke haarnaalddraai is daar net nog klip en ons bevind ons boonop in so ‘n lekker koel misreëntjie wat jou valhelm opwasem, maar uiteindelik maak almal dit tot bo sonder voorval. Ons wag lank vir die bakkie met sy baie wiele om tot bo te kruip terwyl ons breed glimlag en gesels oor ons lekker klim en
ons verkyk aan die asemrowende uitsig oor die kloof. Ons wens iemand kon dit op kamera vasvang, maar daar is eenvoudig nie plek vir stop nie, en die bakkie sou ons net ophou as dit sou vooruit ry.
Oor die plato is dit gelukkig droog want die diep spore in die hardgebakte modder dui op moeilike tye as dit reen. Anderkant af as dit lekker steil en ons kruip verskeie maal oor nog tegniese stukke met klippe en gate.
Buite die wildernis area bereik ons ons kampplek vir die aand by Kudukaya en ons maak ‘n heerlike kampvuur met groot lemoenstompe wat die boer, Petrus, vir ons aflaai.
Dag 4: Baviaanskloof tot Murraysburg
Met Baviaanskloof agter die rug het ons gedink die mooiste is verby en ons was reg vir ‘n ordinêre rit van sowat 350km oor beskaafde grondpaaie. Gerhard het maar ‘n paar paaie wat in die regte rigting loop op die GPS gekies, minwetende dat hy vir ons ‘n asemrowende dag uitgelê het. Na ‘n vullende ontbyt net buite Patensie draai ons af op ‘n grondpad en begin klim. Kort v
oor lank is ons op ‘n tweespoorpaadjie wat oor die kruin van die berge loop met uitsigte kilometers ver na links en na regs. Die dag is nog lank so ons stoot maar aan, maar die heuwels en valleie is asemrowend en ons probeer om darem op te kyk so dan en wan om die natuurskoon te bewonder. Kort voor lank begin ons afsak met die Antoniesberg pas. Theuns en Leon is vooruit en wag so halfpad teen die oorkantste bult. Hulle laat weet met die radio waar ons moet stop sodat hulle foto’s met die telefoto le
ns kan neem. Dis weer steil en klipperig en ons moet meermale van die voorrem ook gebruik maak oor die steilste dele. Onder moet ons mooi in gelid deur die Grootrivier ry vir ‘n fotosessie voordat ons die anderkantste deel van die pas tot bo aandurf. En hier is ons in vir ‘n verrassing! Die pad is steil - baie steil! Wel, mens kan dit eintlik nie ‘n pad noem nie – dis maar net ‘n strook klippe waar daar nie bosse groei nie. Gelukkig hoef jy nie te soek vir ‘n ‘beste lyn’ nie, want daar is nie een nie. Dis net vorentoe lê, vasklou en laat waai. Danie en Kobie met die 1200 Adventure is eerste bo met
Robbie en sy Dakar kort op hulle hakke. Tony kyk nie ver genoeg vooruit nie en bevind hom skielik met ‘n kliprant voor hom wat hoër as sy 1150 Adventure se voorwiel lyk. Hy hou kop en maak oop en skiet soos Evil Knievel deur die lug voordat hy regop te lande kom en die res tot bo maak in een stuk. Dan sluit Gerhard en Dierdré op die 1200 GS by ons aan en uiteindelik kom Theuns se Hilux aangekruip. Danie en Gerhard noem meermale oor hoe bly hulle is vir die “intermediate offroad” kursus wat hulle gedoen het. Daarsonder sou mens verseker nie jou fiets en jou vrou in een stuk bo kon kry nie. En van sit is daar nie sprake nie. Hier sal jy nie uitkom sonder dat jy en jou pasassier altwee staan en ry nie. Die fiets beweeg hopeloos te veel en jy sal jou balans sommer gou-gou verloor.Hierna raak die pad geleidelik breër met groot keerwalle wat jou maag lekker laat draai as jy vinnig daaroor ry. Die gemiddelde spoed begin verbeter terwyl die landskap rondom ons stelselmatig verander van kusgordel-groen na tipiese Karoo-landskap en -plantegroei.
Ons laat waai tot op Steytlerville vir ‘n vinnige lafenis, en na ‘n paar foto’s voor die plaaslike kerk stoot ons aan tot op Klipplaat. Hier staan ‘n ou lokomotief langs die pad op ‘n gruishoop en na ‘n fotosessie ry Gerhard se 1200 GS oor ‘n groot klip wat die ‘bash plate’ morsaf ruk. Ons bespiegel oor die ontwerp van die plaat wat met rubbers vaskom teenoor die stewiger Adventure model terwyl ons, met die fiets op sy kant, die plaat Macgyver-styl met draad vassit.
Intussen neem Robbie ‘n paar van die plaaslike laerskoolkinders vir ‘n 100m draai op sy Dakar. Vinnig-vinnig is daar ‘n hele skare wat wil saamry en dit raak amper ‘n bakleiery oor wie volgende agterop gaan sit. Robbie sien hier kom moeilikheid en sê vir die kinders in sy mooiste Afrikaans hulle moet self besluit wie laaste gaan ry terwyl hy nog vir oulaas tweetjies agterop vermaak. En toe gebeur die mooiste ding. Toe Robbie terugkom by die kindertjies hou hulle die oulikste en kleinste twee dogtertjies vas en laai hulle versigtig agterop tussen Robbie en die top-boks. Die twee stralende gesiggies is onvergeetlik terwyl Robbie pynlik stadig hul draaitjie met hulle ry en die res van die kinders hulle toejuig. Leon neem heelwat foto’s terwyl pogings om hulle te kry om hulle skoollied te sing minder suksesvol is.
Eindelik is ons weer aan die gang maar nou agter skedule. Die laaste deel van ons dag moet ons aanstoot op ‘n tweespoorpaadjie op pad Aberdeen toe. Dit gaan vinnig en ons moet kort-kort woes ankers gooi om veilig oor spoel-sloot of ‘n gat te kom. Almal stamp maar hier en daar bietjie deur as die gat te laat gesien word, maar Gerhard se “bash plate” hou mooi en hy kry reg om so dan en wan na agter oor die radio te waarsku. Ons noodstop-oefeninge kom goed te pas, veral op die 1200’s met die pasassiers.
Na ‘n 12-uur dag in die saal draai ons uiteindelik in by ons eindbestemming – Sekretariskraal, die plaas van Frans en
Hettie du Preez so 30km vanaf Murraysburg. Hierdie is ‘n historiese plaas, ryk aan geskiedenis uit die Anglo boere-oorlog met oudhede net waar jy kyk. Die “donkie” is reeds opgewarm vir stortwater en die storie sing soos ‘n stoomtrein langs die huis soos die plaaswerkers hom stook.
‘n Berg doringhout lê opgestapel en ‘n vuurtjie word fluks aangepak waarrondom ons gesellig braai en kuier. Na aandete begin die manne se liggies flouer brand en hulle soek een vir een die beddens op.
Dag 5: Kapoksplaas en Matjiesfontein

Die volgende oggend is ‘n regte Karoo wintersoggend – helder oopgetrek, maar skerpkoud – teen dagbreek is daar ys op die GS se saal en Danie se Adventure sê die temperatuur is 1º C. ‘n Heerlike plaasontbyt word voorgesit met varsgebakte brood en al.
Met krag vir die dag ry ons na Murraysburg vir petrol en beleef “all pay” wanneer die maandelikse lone en pensioene betaal word en daar is honderde, nee duisende plaaslike inwoners in die strate. Ons ry verder met ‘n mooi paadjie na Kapoksplaas, die plaas van Danie (oom Dam
mmetjie) Rossouw, een van die oudste inwoners in die distrik. Van hier volg ons nog ‘n bobbejaanpaadjie oor een van die aangrensende plase – Matjiesfontein – en hier kry ons die steilste afdraend wat ons tot nog toe teëgekom het. Dit gaan te stadig om die enjin se kompressie te gebruik, so die agterrem word ingespan met die voorrem wat net so liggies help op plekke as dit agter begin gly. Gelukkig kan die kameramanne die keer stop en ons kry ‘n paar mooi aksiefoto’s.
Daarna ry ons ‘n kort draai na Retreat, oom Dammetjie se ander plaas. Hier sorg ‘n driffie met lekker steil hellings en ‘n plassie modder onderin vir bietjie opwinding. Danie en Kobie maak dit amper nie maar kom darem anderkant uitgebeur. Dit kom nou van kyk na daai modder! Op pad terug herinner Kobie “Kyk op, kyk op!” en dinge gaan aansienlik makliker.
Vir aandete word ons uitgenooi na ‘n buurplaas so 20km weg. Daar aangekom gaan ons eers op ‘n plaas-ekskursie op tweespoorpaadjies in lekker lang gras. Dit kos mooi konsentreer om die fietse op die spoor te hou met so hier en daar tyd vir rondkyk. Op plekke is die spore sulke diep slote dat Danie se “footpegs” op ‘n slag altwee gelyk aan die grond raak. Robbie se voorwiel vat ie
wers ‘n verkeerde sloot en hy doen ‘n netjiese duikrol kant toe, gelukkig sonder enige fisiese skade. Net voor ons weer by die plaashuis kom is daar twee diep driffies agter mekaar met bietjie sand. Teen hierdie tyd is opstaan, bene en arms buig, opkyk en gas gee al deel van die roetine en almal kom veilig deur behalwe die bakkie. Die eerste sloot is te diep en die bakkie se neus steek teen die oorkantste wal vas. Dit kos klippe onder die twee voorwiele pak om hom deur die diepste drif te help.
Terug op die werf brand die vure reeds hoog en gaste begin aankom vir wat uiteindelik ‘n byna “Bybelse feesmaaltyd” word. Ons word getrakteer op ‘n verskeidenheid boerekos wat enige fynproewer se mond sal laat water. Daar word tot laat gekuier en gesels en teen middernag pak ons die 20km terug Sekretariskraal toe in die donker aan. Almal ry in kort gelid - Danie en Kobie voor met die 1200 Adventure se sterk soekligte wat die pad mooi verlig. Skuins agter is Gerhard en Deirdré met hulle 1200GS, dan Tony met sy 1150 Adventure en laaste Robbie met die Dakar. Die bakkie ry heel agter om die stof tot die minimum te beprek. Almal staan of stel hulle spieëls af sodat die ligte van agter nie pla nie. Ons sien ‘n paar duikertjies en twee hase, die een wat maar net nie uit die pad wil kom nie. Na ‘n hele paar honderd meter kies die haas eindelik hygend koers (die hasepad?) na links in die bosse in.
Net teen die volgende bult sien ons die vreemdste gesig ooit. ‘n Logge gedierte met kort dik beentjies wat voor ons in die pad aanwaggel – jy sien net bene, boude en stert. Dit lyk kompleet soos ‘n miniatuur seekoei van agter. Uitendelik draai die ding sy kop om so ‘n lang snoet te wys net voor hy in die bosse verdwyn – ‘n erdvark.
Terug by die huis kies almal koers bed toe en slaap soos dooies na nog ‘n lang maar onvergeetlike dag.
Dag 6: Toverwater, Rooipoort en Komsplaas

Ons besluit om die dag bietjie rustiger te vat. Ons ry na die plaas Toverwater sowat 20 km buite die dorp en stop aan die bopunt van ‘n waterval wat 45m oor ‘n krans afstort in ‘n kloof met goudgeel populierbome rondom die poel aan die onderkant. Die oorvloed van water en welige plantegroei verstom ieder en elk en baie foto’s word
geneem. Daarna gaan drink ons koffie op Rooipoort, die plaas van Johan en Alida Pienaar waar ons ons verwonder aan die drie mak sprinkbokkies wat uit jou hand eet en aan jou klere kom snuffel – die een ‘n baie skaars albino. Daar word gesels oor die plaasopstal se lang en interessante geskiedenis asook Alida se skilderkuns.
Alhoewel dit lyk na reën ry ons hiervandaan na die Beeldhouersfontein, plaas van Kotie en Lena van den Berg. Anderkant die opstal volg ons ‘n steil kloof tot by die verlate plaashuis van Komsplaas onder in die vallei. Die roete is tegnies en baie steil en ons wonder of ons weer sal kan terug sonder probleme. Op pad terug besef ons die verkoue wat Robbie al ‘n paar dae pla is meer ernstig toe hy op ‘n draai konsentrasie verloor en omkantel – die harde werk teen die steiltes en skerp draaie te veel vir sy kragte. Ons is almal vuurwarm van die inspanning en kan verstaan toe Robbie later vir ‘n tweede keer sy fiets neersit van pure uitputting. Na ‘n bietjie sit en rus maak hy dit tot bo en ons besluit om dadelik terug te ry plaas toe dat hy rus kan kry.
By die huis besluit Robbie en Tony om die volgende dag terug te ry Kaap toe sodat Robbie by ‘n dokter kan uitkom. Dit blyk later ‘n baie wyse besluit te wees aangesien die ander fietse yskoue reën op die laaste dag sou kry.
Dag 7: Nieu Bethesda en Graaff-Reinet

Ons groet vir Robbie en Tony vroeg die oggend en vertrek na Nieu-Bethesda om die befaamde Uilhuis te gaan beskou terwyl hulle die pad Kaap toe aanpak. Ons roete volg weereens die minder bekende grondpaadjies en die oggendlug is lekker koel. Die pad loop oor ‘n plato en die temperatuur wissel tussen so 8 en 10 grade. Ons stop vir koffie op Nieu Bethesda, loop deur die Uilhuis van Helen Martins en praat oor haar hartseer storie.
Hierna skiet ons deur na Graaff-Reinet. Op pad maak Gerhard, wat voor ry, ‘n bokkie skrik en dit harloop reg voor Danie en Kobie op die Adventure in. Dit kos woes ankers gooi (gelukkig is die ABS af op die grondpad) en hulle mis die bokkie met sentimeters voor dit in die bossies verdwyn.
In Graaff-Reinet word ‘n goeie ou Spur Buger afgesmul gevolg deur nog ‘n fotosessie by die pragtige Vallei van Verlatenheid net buite die dorp. Ons geniet die teer R63 terug Murraysburg toe en kom laatmiddag terug op die plaas aan. Die aand word alles opgepak sodat ons vroeg die volgende oggend kan ry. Die kole van die vorige aand se vuur is nog warm en word net weer oopgekrap vir ‘n gesellige doringhout
vuur terwyl die son sak. Ons sit vir oulaas saam en bespiegel oor ons ervaringe van die afgelope paar dae, maar ervaar ook ‘n mate van leegheid sonder ons twee “ry-kamerade” wat teen hierdie tyd reeds veilig by die huis aangekom het.
Ons word getrakteer op ‘n heerlike ete gekook op ‘n houtkoolstoof soos net Karoomense dit kan voorsit. Een vir een maak ons ‘n inskrywing in die gasteboek en neem afskeid van die huislike atmosfeer wat binne ‘n paar kort dae reeds soos ons eie begin voel het.
Dag 8: Terug Kaap toe
Ons trek weg in die reën en ry die eerste uur in donker op ‘n grondpad wat vinnig gladder word. Die bakkie laat weet oor die radio hulle ry solank vooruit en ons sit ons bestellings in vir koffie en toebroodjies by die volgende stop. Danie en Kobie se baadjies is toe nie so waterdig soos wat die verkoopsman gesê het nie en hulle tande klapper behoorlik toe daar op Leeugamka gestop word. Warm toebroodjies en koffie wag reeds op ons en help om die ergste koue te verdryf. Gelukkig klaar die weer hiervandaan verder op en word die res van die pad in warmer toestande afgelê.
Terwyl ons terugry huis toe gesels ons oor die afgelope paar dae. Almal is dit eens dat dit die beste motorfiets-rit was wat ons nog ooit ervaar het. Ons het van die mooiste streke in Suid Afrika gesien en ‘n groot verskeindenheid van terreine gery. Almal het meer behendig op die fietse geraak en hegte vriendskappe is gesmee. Ons weet nie waar ons volgende gaan ry nie maar almal is dit eens – dit was verseker nie die laaste keer wat ons met ons GS’e deur Baviaanskloof en die Karoo ry nie!







2 comments:
Wens ek was daar. Pragtige fotos, die Karoo by maar 'n mooi plek.
Goeie middag,
Ek het nou so bietjie deur julle blog gegaan. Ek wil net graag weet of julle enige fotos van jul besoek aan Komsplaas het wat julle dalk met my kan deel. Die plaas het voorheen eers aan my oupa en toe aan my oom behoort voordat hy hom toe aan Cobie verkoop het. Ek sal dit opreg waardeer. Ek kan gekontak word by 0842742734. Groete Carina Kruger.
Post a Comment